GEORGE NUUS - 'n Splinternuwe Afrikaanse komedie, #Lovemyselfie, het verlede naweek in uitgesoekte filmteaters landswyd begin draai.
Die regisseur van hierdie kleurvolle rolprent is Lika Berning, wat sowat twee jaar gelede saam met haar gesin vanaf Kaapstad na Plettenbergbaai verhuis het. Heelwat bekendes is in hierdie rolprent te bespeur, en 'n vinnige kykie na die lokfilm beloof skreeusnaakse vermaak.
Met haar regisseur-pa, Regardt van den Bergh, en aktrise-ma, Jana Cilliers, is Berning meesal bekend as aktrise. Sy het al in verskeie TV-sepies verskyn, onder andere in Binnelanders en KykNET se Fees van die ongenooides.
Van die rolprente waarin Berning gespeel het sluit in Liefling, Die Wonderwerker en Vrou Soek Boer. Die rolprent #Lovemyselfie is Berning se eerste poging as regisseur van so 'n groot produksie. Berning was al vantevore as regisseur betrokke by 'n dokumentêr en kortfilm. Die draaiboek is geskryf deur Helene Truter, wat ook 'n rol in die rolprent speel.
"Ek is baie trots op die film," het Berning gesê. "Ek het die regisseurs- en vervaardigershoed gedra. Dis 'n lekker-lag, Afrikaanse komedie met wonderlike akteurs soos Ilse Roos, Lida Botha, Kurt Darren is in die storie."
Die hele film is in 23 dae geskiet. Dit was baie vinnig, met 'n groot rolverdeling.
"By tye was dit vreesaanjaend, omdat dit my eerste keer was [as regisseur van 'n rolprent]. Ons het op die passasierskip, MSC Cruise, geskiet. Dit is ook die eerste film wat in Suid-Afrikaanse waters geskiet is."
Berning is voortdurend besig om tussen Kaapstad en Plettenbergbaai te reis, weens die aard van haar werk, maar sy sal dit vir niks verruil nie.
"My kinders [ouderdomme 7, 8 en 12] kan grootword met vryheid, en op die strande en woude. Wat 'n ongelooflike agterplaas!"
Akteurs van #Lovemyselfie: Helene Truter (Madri), June van Merch (Wini), Illse Roos (Adele Swan) en Joanie Combrink (Talitha).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’