Fietsryers volg Sylvester die leeu se spoor

Sylvester se spoor in die Karoo gaan nou as 'n bergfietsroete gebruik word. Foto verskaf

KAROO NUUS - Sylvester die leeu se swerwerspore in die Karoo gaan nou jaarliks deur bergfietsryers gevolg word as deel van 'n nuwe bergfietsbyeenkoms, naamlik Sylvester the Lion - Ride where Sylvester roamed free.
 
Sylvester het in 2015 en 2016 wêreldwyd nuus gemaak toe hy op twee geleenthede uit die Karoo Nasionale Park ontsnap het. Met die twee ontsnappings het hy altesame 347 km tussen Beaufort-Wes, Fraserburg, Merweville en omliggende areas die vryheid van die Karoo deurkruis.
 
Nou met Sylvester in die Addo Olifant Nasionale Park gevestig, het Jakhals Events Management van Oudtshoorn en die Karoo Nasionale Park se SANParke ere veldwagters Sylvester se spoor deur die Karoo uitgestip as 'n roete vir 'n nuwe bergfietsbyeenkoms.
 
Bergfietsbyeenkoms
Corné Botha, eienaar van Jakhals Events het Woensdag die nuwe Sylvester-bergfietsbyeenkoms as baie uniek beskryf. "Groot gedeeltes van die roete wat Sylvester gestap het, kan net met 'n bergfiets gery word."
 
Die eerste byeenkoms vind reeds op 24 Junie plaas, met die begin- en eindpunt in die Karoo Nasionale Park. Volgens Botha gaan die byeenkoms vir die eerste twee jaar drie afstande bied om aan deel te neem, naamlik 'n 87 km-, 42 km- en 20 km-roete.
 
"Daarna gaan die byeenkoms 'n tweedag-byeenkoms wees, waar die volle 347 km Sylvester-spoor gevolg sal word. Korter afstande sal steeds op die program wees."
 
Vir meer inligting oor die byeenkoms kan Botha gekontak word by 074 260 2871. Inligting is ook beskikbaar op Jakhals Events se Facebook-blad.
 
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS 
 
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus' 


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Knysna-Plett Herald