Geskenke vir siek kinders uit haar sakgeld

Bianca Botha (links) en haar vriend Zander Theron by een van die sieklike kindertjies waarvoor hulle geskenke uitgedeel het by die Knysna Provinsiale Hospitaal. Foto: Verskaf

KNYSNA NUUS - ’n Leerder aan Knysna Hoërskool het op Kersdag, ’n stukkie geluk en vreugde gebring aan kinders wat die dag in die Knysna Provinsiale Hospitaal moes spandeer.
 
Bianca Botha (17), wat hierdie week haar matriekjaar by Knysna Hoërskool begin, vertel sy het verlede jaar Desember tydens ’n besoek aan Oudtshoorn opgemerk hoe die kinders in die strate sit met niks om mee te speel nie.
 
“Ons het die dag so rondgery en ek het die kindertjies orals so sien sit. Ek het toe lekkernye gaan koop en dit die dag uitgedeel. Dit het my die idee gegee om dieselfde in Knysna, my tuisdorp, te doen,” sê sy.
 
Bianca het toe besluit om die jaar se sakgeld wat sy gespaar het, en ook die geld waarvoor sy gedurende die vakansie so hard gewerk het, te gebruik om onder meer lekkers, poppe, karretjies en selfs “tietiebottels” aan te koop wat sy sou uitdeel vir kinders in die hospitaal.
 
“Ons het so 21:00 op Kersdag die geskenkies gaan uitdeel. Daar was twee kinders in die kindersaal en twee pasgebore babas in die kraamsaal, vir wie ek elk iets gegee het,” vertel Bianca.
 
Met die geskenke wat oorgebly het, het sy en haar vriend, Zander Theron, na die ongevalle-eenheid gegaan waar daar, volgens Bianca, nog drie baie sieklike kinders gesit het.
 
“Ons het die res van die geskenke vir hulle en hul boeties en sussies gegee. Dit het my baie bly gemaak. Van die ouers het begin huil, so dankbaar was hulle –dit breek nogals bietjie mens se hart om so iets te sien,” het Bianca verder gesê.
 
Volgens Bianca se ma, Eunice Botha, was dit nie net die kinders wat verbly is deur hierdie gebaar nie. “Dit het my hart ook baie bly gemaak om te sien hoe bly die kindertjies was om ’n geskenk van ’n vreemdeling te ontvang! Ons kon die dankbaarheid in die kindertjies se oë sien gloei,” het sy gesê.
 
Bianca sê sy het uit haar eie besluit om die geskenke te koop en uit te deel.
 
“Ek sal graag elke jaar so iets wil doen. As ek nie iemand kry om te help met ’n borgskap hierdie keer nie, dan doen ek dit net weer met my eie sakgeld,” het sy gesê.
 
“Ek wil ook net dankie sê vir my ma en Zander wat my die dag gehelp het,” het sy gesê.
 
ARTIKEL: STEFAN GOOSEN, KNYSNA-PLETT HERALD-JOERNALIS 
 
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Knysna-Plett Herald