LANDBOU NUUS - Die klein suurpootjie kry sy naam van die geel sterpatrone op die donkerbruin agtergrond van sy dop, en hy het ‘n geel nek en geel bene. Hy word maar sowat 12 cm in diameter.
Die suurpootjie is die skaarsste skilpadspesie in Afrika en CapeNature meen daar is na raming minder as 5000 oor in die natuur, maar daar kan ook minder wees.
Die skilpadjie is baie habitatspesifiek en kom uitsluitlik in spoelgrondfynbos en laagland-renosterveld voor en word hoofsaaklik bedreig omdat sy natuurlike habitat vernietig is. Hy vreet net die blare, blomme en nuwe uitloopsels van sekere fynbosplante.
Min is bekend oor die skilpadjies, maar hulle hiberneer klaarblyklik tussen Junie en September. Wanneer die wyfie gereed is om haar eiers te le skraap sy ‘n holtetjie in die grond en bedek die eiers met gras of ander plante. Die patroon op die wyfie se dop verskil van die van die mannetjie.
Die dop is besonder hard en saam met die kamoeflering beskerm dit die skilpadjies teen natuurlike vyande, maar die mens met sy onblusbare lus vir meer grond en geld is sy grootste vyand.
Die skilpadjies is uitgevoer as troeteldiere, maar het nie in gevangenskap oorleef nie omdat hulle ‘n baie spesifieke dieet het. Teen 1951 is die uitvoer van die skilpadjies verbied, maar smokkelhandel duur voort. Baie van die skilpadjies wat in bokse na die buiteland gesmokkel word, oorleef dit nie.
Die Harmony Flats-natuurreservaat tussen Strand en Gordonsbaai is in die 90’s geskep met die doel om die skilpadjies te beskerm. Ontwikkeling het egter ook hier die habitat van die skilpadjies vernietig want kort voor lank was daar huise reg rondom die reservaat gebou.
Inwoners is glo nooit behoorlik ingelig oor die waarde van die reservaat in die bewaring van die skilpadjies nie. Die heinings is keer op keer beskadig en die skilpadjies het in talle brande omgekom.
Dit het ook nie gehelp toe die provinsie die reservaat aan die munisipaliteit oordra nie, want te min personeel en te min geld het daartoe gelei dat die reservaat nie behoorlik bestuur kon word nie.
Uiteindelik is ‘n klompie van die skilpadjies wat oorleef het na die Tygerberg Dieretuin geneem met die hoop dat hul getalle in veilige aanhouding sal aanwas. Maar ag, almal is kort daarna gesteel.
Tussen 1997 en 2001 het die suurpootjie heeltemal uitgesterf in Kaapstad en tans kom hulle net in ‘n paar natuurreservate en op privaat plase in die Swartland, Breëriviervallei en die Ceresvallei voor.