Vrouedag vir Suid-Kaap-vroue dié naweek

Shéri Brynard tree komende Saterdag op as gasspreker by Dames Aktueel se Vrouedag by De Dekke in Groot-Brakrivier.

SUID-KAAP NUUS - Nog 'n paar kaartjies is beskikbaar vir die jaarlikse Dames Aktueel Vrouedag wat komende Saterdag, 29 September by De Dekke in Groot-Brakrivier plaasvind.

Dit is die 16de Vrouedag en beloof om weer 'n oggend te wees met hope talent op die verhoog. As motiveringspreker gaan Suid-Afrika se bekendste Downsindroomlyer, Shéri Brynard optree.

Sy het al voor 20 000 Kovsie-graduandi 'n toespraak gelewer asook in Londen by Downsindroom Internasionaal waar sy gevra is om as ambassadeur vir Downsindroomlyers wêreldwyd op te tree.

Sy het talle pryse op kunsfeeste verower. Verlede jaar het sy die Hamlet-stigting se presidentseerbewys gekry vir die werk wat sy vir gestremdes doen.

Ricus Nel, 'n hoogs begaafde musikant wat 13 instrumente bespeel, was by agt van die afgelope 10 jaar se Huisgenoot Skouspele betrokke. Hy is op verskeie kunstenaars soos Kurt Darron, Juanita du Plessis, Nadine en vele ander se DVD's te sien. Hy beloof om met sy pragtige diep stem 'n pad oop na die gaste vroue se harte oop te sing en speel. Hy is gereeld te sien op Jukebox op kykNET.

Dan kom Anne-Marié Peyper, 'n leefstylkonsultant van byna 30 jaar, gaste op 'n humoristiese trant wys dat daar in elke aspoestertjie 'n prinses skuil. Dit maak nie saak hoe oud jy is of watter figuurvorm jy het nie. Sy het die talent ontvang om die angel uit klerekasbeplanning te haal en 'n nuwe wêreld oop te sluit met ses tot sewe basiese kledingstukke.

George se eie Tokkie Nel en hulle orkes gaan ook vir die vroue 'n versameling Abba-liedjies uitvoer wat die harte warm gaan laat klop en die voete sal laat jeuk.

Bel Magdaleen Smook by 044 873 6568 of 074 977 1986 vir kaartjies.


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Knysna-Plett Herald