SUID-KAAP NUUS - Na die onlangse Nasionale Varswater Hengelkampioenskappe in Maart waartydens die Suid-Kaapse Senior A-span die vyfde plek by die Vaaldam ingeneem het en die
B-span gesukkel het en laaste by die Brandvlei-dam geëindig het, is die proewe vir die 2013 spanne afgehandel.
Al drie proewe is by die Stompdriftdam gehou en het 'n kans vir hengelaars gebied om die keurders te beïndruk.
Dié dam is net 8% vol en met die naderende kouefront kon die beste hengelaar van die dag, Ben Crafford (DKD Hengelklub), darem 13 vis met 'n gewig van 17.29 kg inweeg. Tweede was Coco Kruger (Eden) met 14 vis van 13.58 kg. Koos Nel (Kango) was derde met 8 vis van 13.41 kg.
Die spanne sal eersdaags bekend gemaak word deur spankaptein Koos Groenewald.
Die spanbestuurder, Jannie Crafford, sê daar lê nog harde werk voor vir die res van die jaar as die span volgende jaar wil voortbou op die onlangse suksesse. Die komende SA Kampioenskappe word deur Noord-Oos Mpumalanga by Trichardsfonteindam aangebied en die tuiswater sal tot die voordeel van die binnelandse spanne tel.
|