KNYSNA NUUS - 'n 58-jarige motorfietsryer van Knysna het Woensdagmiddag, 2 Mei op 'n skerp draai sowat 15km buite Oudtshoorn beheer oor sy 600cc-superfiets verloor en geval.
Die motorfietsryer en fiets het oor die baan van aankomende verkeer geskuif en teen die veiligheidsreling tot stilstand gekom. Nooddienstepersoneel op die toneel was dit eens dat hy baie gelukkig is dat daar nie op daardie oomblik aankomende verkeer was nie.
Polisielede wat toevallig onderweg was op pad Oudtshoorn toe het op die ongeluk afgekom en bystand verleen totdat die nooddienste enkele minute later opgedaag het.
'n Insleepdiens wat met 'n beskadigde Opel Corsa op pad was Durban toe was een van die eerste voertuie by die ongelukstoneel en het aanvanklik vir verwarring gesorg toe omstanders onder die indruk was dat die motorfiets met die Corsa gebots het.
Die twee lede van die insleepdiens het aangebied om die erg-beskadigde motorfiets Knysna toe te neem.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die streek se gesondheidsdienste, is die pasiënt om 14:55 met beseerde ribbes in die Oudtshoorn-hospitaal opgeneem en was gisteroggend in 'n stabiele toestand.
ARTIKEL EN FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT (SUSTERKOERANT VAN KNYSNA-PLETT HERALD)
|