Frederich Nietzche het gesê “And those who were seen dancing were thought to be insane by those who could not hear the music.”
Ek het altyd gedink dis ‘n gesegde wat verduidelik waarom sommige mense as vreemd beskou word. Maar, hoe meer ek egter oor politiek leer en hoe meer ek lees van wanadministrasie, korrupsie en Malema wat glo die belastinggaarder R10 miljoen skuld en die minister van sport wat meer op een sportfunksie spandeer as wat die Lotto in totaal vir sportontwikkeling bewillig hoe meer besef ek Nietzche het baie meer bedoel as wat ek ooit kon dink.
Die musiek waarvolgens korrupte politici en geldgatte in hoë posisies dans is heeltemal onhoorbaar vir ons, die gewone mense. Ons sien hulle dans en ons weet iewers moet musiek wees, maar die liewe gode alleen sal weet hoe daai musiek klink. Ons weet dat iemand hulle kitare slaan maar ek is oortuig dat ons, in hierdie kort tydjie wat vir ons geleen is, nooit die kitaarspel en die ritme sal verstaan nie.
Dit is verbysterend dat R120 miljoen in ‘n klein plattelandse dorpie net eenvoudig kan wegraak, dat goeie werkers afgedank word en onbekwames aangestel word. Dit moet ‘n ongelooflike gekke wysie wees waarvolgens daar deur leiers en administrateurs gedans word. ‘n Peperduur gekkewysie waarvan die melodie die koffers stadigaan leeg tap.
Nietzche was reg; vir ons wat nie hulle musiek hoor nie kan hulle dansery net ervaar word as totale malligheid. Wie was nou weer daai keiser wat musiek gemaak het terwyl Rome brand, was dit Nero? Hy sal heel tuis voel hier want hier is nie net een keiser wat musiek maak terwyl alles verval nie, hier is sommer ‘n leërskare van hulle.
|