Publiek se betrokkenheid noodsaaklik

Die Hornlee-gemeenskapsaal Donderdagaand 20 April tydens Wyk 6 se publieke deelnemingsproses waartydens die 2017/2018 voorgestelde begroting en vyfjaar-geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning bespreek is. Foto: Stefan Goosen

KNYSNA NUUS - “U betrokkenheid is absoluut noodsaaklik in hierdie begrotingsproses.”
 
Dit is hoe Wyk 6 se raadslid Elrick van Aswegen ongeveer 60 inwoners toegespreek het tydens ’n publieke deelnemingsproses Donderdagaand 20 April in die Hornlee-gemeenskapsaal in verband met die 2017/2018 voorgestelde begroting en vyfjaar-geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning (GOB).
 
“Almal kan by die huis sit en kla oor die toestand van die dorp en wat die munisipaliteit doen, maar aan die einde van die dag is wat jy as inwoner doen en sê wat gaan bepaal wat in jou wyk gebeur. Jy gaan nog lank sit as jy net aanhou kla, want die lewe gaan aan. As julle as die gemeenskap niks doen nie, dan gaan niks gebeur nie,” het hy gesê.
 
Hierdie publieke deelnemingsproses is spesifiek van belang om onder meer te verseker dat die toepaslike dienslewering in elke gemeenskap onder die Knysna-munisipaliteit plaasvind.
 
Tydens die begrotingsvoorlegging, waarvolgens inwoners verduidelik is waaroor die proses gaan en watter bedrae van die kapitaal- en bedryfsbegroting in hul gemeenskap bestee sal word, het hoof-finansiële beampte van die munisipaliteit, Mbulelo Memani, Van Aswegen se woorde beklemtoon.
 
“Julle moet aan die proses deelneem en jul insette oor die voorgestelde begroting teen 12 Mei indien as deel van die publieke deelnemingsproses, want hierdie insette word aan die burgermeester en die raad oorgedra sodat hulle dit in ag kan neem met die finalisering van die begroting,” het hy gesê.
 
Verder publieke deelnemingsvergaderings:
 
Wyk 1
9 Mei, 19:00, Smutsville-gemeenskapsaal
11 Mei, 15:00, Sedgefield Bowling Club
 
Wyk 2
25 April, 15:00, Sedgefield-gemeenskapsaal
25 April, 19:00, Protea-saal in Karatara
 
Wyk 3
24 April, 18:00, Chris Hani-saal
 
Wyk 5
2 Mei, 19:00, Rheenendal-gemeenskapsaal
10 Mei, 17:00, Brenton-gemeenskapsaal
26 April, 18:00, Khayalethu-saal
 
Wyk 8
3 Mei, 18:00, AFM Ivangeli Loxolo
 
Wyk 9
4 Mei, 18:00, Leisure Isle Bowling Club
 
Wyk 11
8 Mei, 19:00, AFM Koinonia Church
 
Besoek Knysna-munisipaliteit se webtuiste vir die volle program en verdere inligting.
 
 
Hoof-finansiële beampte van die Knysna-munisipaliteit, Mbulelo Memani, verduidelik onder meer waaroor die proses gaan en watter bedrae van die kapitaal- en bedryfsbegroting in Wyk 6 bestee sal word. Foto: Stefan Goosen
 
ARTIKEL & FOTO'S: STEFAN GOOSEN, KNYSNA-PLETT HERALD-JOERNALIS
 
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'


Your Comments

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Knysna-Plett Herald