HESSEQUA NUUS - Die somerson kan baie geniepsig en ook skadelik vir mens wees, maar jy kan sonbrand voorkom deur 'n klein bietjie voorsorg te tref.
Keer dat jy seer brand
• Bly tussen 10:00 en 15:00 sover moontlik uit die son. Jy kan selfs op 'n bewolkte dag brand, omdat ultra violetstrale deur wolke dring.
• Smeer 'n waterbestande sonroom met 'n sonbeskermingsfaktor (SBF) van 15 of meer aan minstens 30 minute voor jy in die son kom.
• Smeer elke paar ure en nadat jy geswem het weer sonroom aan. Volg die aanwysings op die etiket.
• Pasop vir weerkaatsende oppervlakke. Sekere oppervlakke soos water, gras, sement en witgeverfde oppervlakke weerkaats sonlig en UV-straling.
• Beskerm jou lippe, oë en kop. Smeer gereeld lipsalf met 'n SBF van 20 of hoër aan wanneer jy in die son is.
• Dra 'n sonbril met goeie UV-beskerming (UV400) en 'n diggeweefde breërandhoed om sensitiewe dele soos jou oë, nek en kopvel te beskerm.
• Kies swemklere en 'n sonsambreel wat UV-beskerming bied.
Indien jou kind 'n paar keer ernstig sonbrand opgedoen het, verhoog dit sy risiko om as volwassene velkanker te kry. Hou hulle sover moontlik weg uit direkte sonlig en maak seker hulle dra sonroom wanneer hulle buite is. Babas behoort glad nie aan direkte sonlig blootgestel te word nie.
Te laat - jy het klaar gebrand
• Neem 'n koel stort of bad.
• Drink genoeg vloeistof om te keer dat jy ontwater.
• Vermy alkohol, omdat dit jou verder laat ontwater.
• Smeer 'n vogroom of spesiale room vir songebrande vel aan om die pyn en jeukerigheid te verlig.
• 'n Ligte pynstiller soos parasetamol of aspirien sal help om die pyn te verlig.
• Indien blase vorm, jy koorsig word, of as 'n kind ernstig in die son gebrand het, is dit nodig om mediese hulp te kry.
(Inligting: Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa)
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'